Vrou val na haar dood by Howick-waterval

Die Howick-waterval

Die Howick-waterval

ʼn Vrou is Vrydagoggend dood nadat sy 110 meter ver geval het by die Howick-waterval in KwaZulu-Natal.

Christo Venter, ʼn woordvoerder van ER24, het gesê ʼn ooggetuie het gesien hoe die vrou omstreeks 10:00 by die waterval geval het.

“Dis nog nie duidelik hoekom sy geval het nie, maar die situasie word deur die polisie ondersoek,” het Venter gesê.

Paramedici en die Pietermaritzburg-polisie se honde-eenheid asook hul soek- en reddingseenheid is na die toneel ontbied. “Reddingswerkers het 110 meter ver met toue teen die steil kranse afgeseil tot op die grond, waar hulle die vrou se liggaam in die waterpoel gevind het. Hulle het haar uit die water gehaal, maar sy was reeds dood weens die impak van die val en die beserings wat sy opgedoen het. Sy is op die toneel dood verklaar.

Die vrou se liggaam is op ʼn draagbaar geplaas en teen die krans op gehys.

Kol. Jay Naicker, ‘n polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die Howick-polisie doen ‘n geregtelike doodsondersoek en dat die omstandighede om die voorval ook ondersoek word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Justi ·

Hoe tragies is dit tog nie. Sterkte aan die oorledene se familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.