Vrou vas na sy glo honde se ore afkap

Foto: www.looklocal.co.za

ʼn Vrou van Chatsworth, KwaZulu-Natal, is in hegtenis geneem nadat sy glo haar Amerikaanse veghonde se ore afgekap het.

LookLocal Chatsworth berig dat die eienaar van die honde, in haar laat 20’s, glo vroeër die week ʼn reun, teef en hul twee babahondjies se ore afgekap het. Die vrou het ʼn 5-jarige dogtertjie. ʼn Woordvoerder van die Durban DBV, Caroline Smith, sê die saak is onder hul aandag gebring deur ʼn lid van die publiek. “Ons ondersoekers is na die vrou se huis en was gewalg om die diere te vind waar hul met kettings vasgemaak was en met hul ore wat afgekap is. Daar was bloed op hul pelse en spatsels bloed teen die mure en op die vloere, wat reeds afgewas is.” Die vrou word van dieremishandeling aangekla. Daar is reeds ʼn nuwe huis vir die reun gevind terwyl die teef en haar kleintjies steeds in die sorg van die DBV is, maar binnekort by die reun sal aansluit. Smith sê indien die vrou skuldig bevind word kan sy drie jaar tronkstraf of ʼn boete van R60 000 opgelê word. Sy sê die vrou se lewensmaat is glo ook betrokke maar kon nie tydens haar inhegtenisneming opgespoor word nie. Die vrou beweer glo dat rowers die honde se ore afgesny het.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.