ʼn Vrou en haar vriend is in hegtenis geneem nadat hulle glo valslik beweer het sy en haar 4-jarige dogtertjie is verkrag.
Die Carletonville Herald het verlede week berig dat die vrou omstreeks 4:30 op 24 Januarie wakker geskrik het en dat daar drie mans in haar kamer was. Twee van die mans het haar glo verkrag terwyl ʼn derde man glo na haar 4-jarige dogtertjie se slaapkamer is waar hy haar glo verkrag het. ʼn DVD-speler en ʼn selfoon is gesteel.
Die ondersoekbeampte in die saak, sers. Dennis Zuma, sê die vrou en haar vriend is intussen in hegtenis geneem nadat dit aan die lig gekom het dat hulle glo die voorval opgemaak het. Die gesteelde goedere is glo in die vriend se besit gevind. Die vrou se broer is intussen ook in hegtenis geneem na ʼn rooftog by sy suster se huis op 23 Januarie. Zuma sê die vrou se man dreig glo om van haar te skei en dat sy moontlik die voorval opgemaak het om aandag te trek.