Vrou verloor moontlik been weens nalatige hospitale

Cornelia Wentzel (49) van Mokopane gaan glo meer as R1.7 miljoen van die Limpopo-regering ontvang weens nalatige behandeling wat sy by twee provinsiale hospitale ontvang het.

Wentzel se been gaan moontlik afgesit moet word nadat mediese personeel by die Lephalale en Polokwane-hospitale sewe jaar gelede haar erg ontwrigte enkel nie behoorlik behandel het nie. Sy moes ‘n hele paar operasies ondergaan en ervaar chroniese pyn en een been is korter as die ander een.

Die Pretoriase hooggeregshof het Maandag ‘n ooreenkoms tussen Wentzel en beamptes van die provinisie as ‘n hofbevel bevestig.

Wentzel was glo besig om die swembad by haar huis skoon te maak toe sy gegly en haar enkel ontwrig het. Sy is na Lephalale-hospitaal vir behandeling, maar is toe na Polokwane oorgeplaas, aangesien haar besering spesialisbehandeling deur ‘n ortopediese sjirurg benodig het. By Polokwane-hospitaal aangekom, het niemand egter van haar geweet nie. Sy het sowat 12 uur lank in uiterste pyn, sonder medikasie, gewag totdat hulle die volgende oggend op haar opereer het.

Volgens die hofdokumente, het die sjirurg beweer hy benodig nie X-straalplate nie, aangesien hy “weet wat hy doen”. Hy het met epidurale narkose op haar opereer. Sy was steeds by haar bewussyn toe die kragtoevoer na die teater skielik afgesny is en sy is op ‘n laken na ‘n ander teater gedra, aangesien daar glo nie stootwaentjies beskikbaar was nie. Die personeel het aanvanklik nie geweet waar om die lig in die teater aan te skakel nie, en Wentzel was toe só besorg dat sy versoek het om onder algehele narkose opereer te word.

Toe sy wakker word, en pynmedikasie versoek het, het die verpleegpersoneel aan haar gesê die dokter is vir die naweek weg sonder om instruksies vir verdere behandeling te laat. Hulle het geweier om haar te help, selfs nie eers toe bloed uit haar verbinde voet op die vloer gedrup het nie. Hulle het haar aangeraai om terug te keer na Lephalale-hospitaal.

Haar eggenoot het haar later die aand self na ‘n plaaslike hospitaal geneem waar ‘n dokter pynmedikasie voorgeskryf het. Dieselfde dokter het haar vir weke lank behandel voordat hy die gips verwyder en gemerk het dat gangreen ingetree het. Sy is dadelik na Kalafong-hospitaal oorgeplaas waar sy verskeie operasies moes ondergaan in ‘n poging om haar voet te red, maar haar linkerbeen is toe baie korter as haar regterbeen gelaat.

Sy het reeds die gebruik van haar linkervoet tot ‘n groot mate verloor.

Wentzel was glo ‘n ywerige drawwer en het dans en visvang saam met haar man geniet, maar nou sukkel sy selfs om haar huis skoon te maak.

Dr. D Mare het aan die hof gesê Wentzel benodig verdere operasies, maar aangesien die pyn nou só erg is, beveel hy aan dat haar been net onder die knie afgesit moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.