Vrou wat jong seksslaaf red vandag in hof

Die vrou wat ’n 13-jarige meisie verlede week uit ʼn huis in Vanderbijlpark gered het waar sy as seksslaaf gebruik is, sal vandag in die Vereeniging landdroshof verskyn.

Annari du Plessis (43) is Vrydag in hegtenis geneem en word aangekla van regsverydeling. ʼn Polisiewoordvoerder kapt. Katlego Mogale sê Du Plessis het die saak by die polisie aangemeld maar nie die slagoffer na die polisiestasie gebring nie. Hy sê Du Plessis het eers die volgende dag die kind ingeneem sodat die nodige prosedures gevolg kan word en die polisie dus verhinder om hulle pligte uit te voer. Du Plessis het aan ʼn dagblad gesê sy wou nie die meisie na die polisiestasie neem nie aangesien daar baie mans is en dit traumaties vir die meisie sou wees. Du Plessis, ʼn voormalige polisievrou, is van die organisasie Crossroads in Vanderbijlpark. Sy het die meisie verlede week van ʼn huis gered waar sy glo aangehou is en deur sowat 17 mans tussen 20 en 40 jaar oud herhaaldelik verkrag en misbruik is. Die meisie is van Parys in die Vrystaat en word sedert Januarie vanjaar vermis. Du Plessis sê sy het al vier meisies van dieselfde huis gered. Mogale sê die polisie is steeds op soek na die mans maar wou nie verder kommentaar lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.