Vroue gered ná 30 jaar se aanhouding in Londen-huis

Kevin Hyland, Scotland Yard

Kevin Hyland, Scotland Yard

ʼn Egpaar van Engeland is in hegtenis geneem nadat hulle vermoedelik drie vroue 30 jaar lank in hul huis gevange gehou het.

Die man en vrou, altwee 67 jaar oud, is by hul huis in die suide van Londen aangekeer as deel van ʼn ondersoek na slawerny deur die beamptes van die mensehandeleenheid.

Die “erg getraumatiseerde” slagoffers, ʼn vrou van Maleisië (69), ʼn vrou van Ierland (57) en ʼn vrou van Engeland (30) is na ʼn plek van veiligheid geneem, het Scotland Yard in ʼn verklaring gesê.

Die polisie is in Oktober in kennis gestel van die situasie deur die Freedom Charity, wat ʼn oproep van ʼn vrou ontvang het wat gesê het dat sy al langer as 30 jaar lank teen haar wil in ʼn huis in Londen aangehou word.

Kevin Hyland, speurderinspekteur van Scotland Yard, het gesê hulle sal ʼn ondersoek van stapel stuur om die feite van hierdie baie ernstige bewerings te staaf. “Ons het bevestig dat die vroue vir ten minste 30 jaar lank aangehou is. Hulle het ʼn mate van gekontroleerde vryheid gehad,” het hy aan verslaggewers gesê. “Ons het al gevalle gesien van mense wat vir 10 jaar lank aangehou is, maar nog niks só erg nie.”

Hyland sê die vroue word tans deur ʼn liefdadigheidsorganisasie versorg wat met mense werk wat erg getraumatiseerd is.

Aneeta Prem, stigter van die Freedom Charity, het gesê die drie vroue is in effek in “huishoudelike slawerny” aangehou en hulle kon nie die huis verlaat nie uit vrees vir hul vermeende ontvoerders. Dit lyk nie of daar enige seksuele element aan die vermeende aanhouding was nie.

Volgens Prem is die vroue in ʼn gewone huis in ʼn gewone straat aangehou wat nie aandag sou trek by enigiemand nie. “Die bure het glo van niks geweet nie,” het sy gesê.

ʼn TV-dokumentêr oor verpligte huwelike wat verband hou met die werk van die Freedom Charity, het een van die vroue daartoe gelei om hulle te kontak en hulp te vra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.