Vroue oor wêreld heen in verset

Dié vrou, wat aan die protes deelneem, is veel minder versluier as die meeste ander wat foto’s en video’s op Twitter geplaas het, en van wie net die oë uitsteek. Foto: AP

Dié vrou, wat aan die protes deelneem, is veel minder versluier as die meeste ander wat foto’s en video’s op Twitter geplaas het, en van wie net die oë uitsteek. Foto: AP

Vroue van Saoedi-Arabië word opgeroep om Saterdag op groot skaal agter die stuur in te skuif, en die pad aan te durf. Vroue in hierdie land mag nie rybewyse kry nie, en om Jane Rondry se Rolls in te span kan ‘n boete, tronkstraf of selfs siepsop tot gevolg hê.

Twitter word op groot skaal vir hierdie versetaksie ingespan, met talle vroue wat, deeglik versluier, foto’s en video’s van hulself plaas waar hulle agter die stuur sit.

Ook in die Nederlandse stad Dordrecht gaan die feministegroep, Femen, vandag by ‘n sinode rondborstig aan die sinodegangers die naakte waarheid verkondig. Die vroue is veral ontstoke omdat die enigste vrou wat na die sinode genooi is, ‘n sangeres is. “Die manne praat, en die vroue sorg vir die vermaak.” Femen het bekendheid verwerf vir die min klere, heelwat minder as hul Saoediese susters, wat tydens betogings gedra word.

Hoewel die Protestantse Kerk Nederland by die reëlings van die sinode betrokke is, is die Nasionale Sinode ‘n onafhanklike beweging wat Christene ongeag kerkverband probeer saamsnoer. Die oop uitnodiging vir deelname aan die sinode wat vandag en môre plaasvind, is nie tot mans beperk nie. Uit Femen se verklarings blyk dit dat die aanroep van “God die Vader” die rede vir ontevredenheid is, omdat “vroue daardeur ondergeskik bly.”

Saoedi-Arabië, sonder sy vrouebestuurders, is een van die lande met die hoogste aantal noodlottige ongelukke tot verhouding van die grootte van sy bevolking.

Sjeik Saleh bin Saad al-Lohaidan het onlangs internasionale kritiek op die lyf geloop toe hy die verbod op vrouebestuurders probeer regverdig het deur te sê dat vroue wat besuur “se eierstokke opgedruk word en hulle gereeld kinders in die lewe bring wat mediese probleme het.” Hy het egter geen mediese gesag vir dié juweeltjie geopper nie.

In 2011 is ‘n Saoediese vrou, Shaima Justaneyah, tot tien houe gevonnis omdat sy motor bestuur het. Die koning het die vonnis egter te midde van internasionale ontsteltenis tersyde gestel.

Die regering het egter vroue gewaarsku om nie die naweek aan die protes deel te neem nie. Enige byeenkoms sal as sedisie beskou word en alle wetlike strafmaatreëls sal toegepas word. Die vroue wat die protes reël hou egter vol dat geen byeenkoms gaan plaasvind nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marie ·

Nee kwit, het julle gesien hoe bestuur hierdie dames in ons land. Moet hulle tog nie aanmoedig nie. Elke dag ry een van hulle omtrent in my vas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.