Vroue wou glo man en kind aan die brand steek

Vyf vroue is in Kaapstad in hegtenis geneem nadat hulle glo ʼn man en sy kind aan die brand wou steek.

Kapt. Frederick van Wyk, ʼn polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê die vroue, tussen die ouderdom van 37 en 45, is Dinsdag in hegtenis geneem.

“Die vroue het die 36-jarige man Maandag by sy huis in Joe Slovopark in Milnerton konfronteer. Hulle het glo aggressief geword en een van die vroue het die man met pepersproei in sy gesig gespuit,” het Van Wyk gesê.

“Hulle het glo ook petrol oor hom en sy kind uitgegooi. Een vrou het ʼn vuurhoutjie aangesteek, maar die man het gou ʼn mes gegryp en kon daarin slaag om sy aanvallers te verjaag.”

Volgens Van Wyk het die groep glo gedreig dat hulle sal terugkeer en die man en sy gesin doodmaak. Niemand is tydens die voorval beseer nie.

Volgens die Cape Argus is die slagoffer Luthando Lekevana, SA National Civic Organisation (Sanco) se leier van Joe Slovopark.

Na wat berig word, beweer Lekevana die groep het vriende en familielede van buite die gemeenskap gewerf om vir die stad se MyCiti-busprojek in die omgewing te werk.

“Hulle is kwaad want ek het die gemeenskap gevra om seker te maak dat sy (die leier van die groep vroue) dit sal staak,” het hy aan Cape Argus gesê.

Die vroue moet Donderdag in die Kaapstad-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.