Vrouedag moet ook hulde bring aan vroue van Anglo-Boereoorlog, vra Solidariteit Beweging

Die Solidariteit Beweging het vandag gevra dat daar op Vrouedag, wat môre landwyd gevier word, gefokus word op die 34 000 vroue en kinders wat gedurende die Anglo-Boereoorlog in die konsentrasiekampe gesterf het. Dit is vanjaar die 110de herdenking van die einde van dié oorlog wat van 1899 tot 1902 tussen Brittanje en die Boererepublieke gewoed het.

Volgens Ilze Nieuwoudt, woordvoerder van die Solidariteit Beweging, moet die nagedagtenis van die Boerevroue en -kinders van die oorlog gerespekteer en vereer word. “Vrouedag behoort nie net aan die vroue wat in 1956 protes teen die paswette aangeteken het nie. Die dag moet op ʼn meer inklusiewe manier gevier word. Ons het nie net die reg nie, maar ook die verantwoordelikheid om die dag ter nagedagtenis aan die vroue en kinders van die oorlog op hierdie dag te vier. Hierdie deel van ons geskiedenis mag nie eenvoudig geïgnoreer word nie, want dit maak ’n onlosmaaklike deel van ons land se vorming uit. Die smart en lyding wat hulle deurgemaak het, het byna geen gelyke in die geskiedenis van moderne oorlogvoering nie. Dié vroue het as’t ware vasberade en vol hoop saam geveg vir vryheid in dié bittere oorlog. Hulle was ware heldinne en bly steeds ʼn voorbeeld vir hedendaagse vroue,” verduidelik Nieuwoudt.

Augustus en September was in vele opsigte ʼn prominente tyd in die oorlog. In Julie en Augustus het Britse magte met mening begin om plaashuise te verwoes. Die daklose vroue en kinders is in veetrokke na die Boerekrygers in die veld gestuur.

In Kraal-Uitgewers, die uitgewersmaatskappy van die Solidariteit Beweging, se nuutste boek Onthou! Kronieke van vroue- en kinderlyding, 1899-1902, geskryf deur prof. Andries Raath en Elria Wessels, word vertel dat September 1900 as’t ware die draaipunt vir die kampe was. Navorsing toon dat die kampe vanaf September 1900 nie meer net huisvesting gebied aan vlugtelinge wat vrywillig die wapen neergelê het nie. Dit het ook die plek geword waarheen mense geneem is wat met geweld van hul huise en plase weggevoer of in die veld aangekeer is nadat hulle gevlug het.

Die Britte se toepassing van die verskroeideaardebeleid het uiteindelik tot die totstandkoming van meer as 40 konsentrasiekampe vir Boerevroue en -kinders gelei en teen September 1901 was daar reeds meer as 110 000 vroue, kinders en bejaarde mans in die kampe.

Sedert die opening van die kampe tot en met die einde van die oorlog in Mei 1902 is meer as 34 000 mense in en op pad na die kampe dood. Die omstandighede in die kampe was so erg dat tussen 20% en 25% van die totale kampbevolking tussen Mei en Desember 1901 gesterf het.

Onthou! is in Mei vanjaar bekendgestel en bring hulde aan die lyding van vroue en kinders van die oorlog. Dit is die vyfde boek in Kraal-Uitgewers se Erwe van ons vaad’re-reeks. Die boek bestaan uit drie prominente dele. In die proloog word die ontstaan van die Britte se verskroeideaardebeleid, wat onder meer die oprigting van konsentrasiekampe ingesluit het, sowel as die rol van die Pro-Boerebeweging in Brittanje ondersoek. Dit word opgevolg deur 20 hoofstukke waarin onder meer die geannoteerde verhale van meer as 30 vroue wat self die kampe beleef het, vertel word. Die derde deel van die boek bevat ’n insiggewende geskiedenis van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein wat in 2013 reeds 100 jaar oud sal wees. Onthou! is beskikbaar by Kraal-Uitgewers teen R520 (posgeld uitgesluit). Om die boek te bestel, SMS “Onthou” na 34388.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae