Die ANC-vroueliga wil die gelykheidshof nader nadat stakende onderwysers tydens ʼn optog onderklere rondgewaai het en gesê het dit behoort aan Angie Motshekga, die minister van basies onderwys.
“Die [vroueliga] het met onsteltenis verneem van kommerwekkende mediaberigte oor lede van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) wat onderklere rondgeswaai het en dit aan Motshekga toegeskryf het tydens verlede week se stakings,” het Maleke Mokganyetsi, sekretaris van die vroueliga in Limpopo, gesê. “Hulle moet die volle toorn van ons kriminele regstelsel in die gesig staar.” Mokganyetsi het Sadou as teenrevolusionêr beskryf en sê die stakende onderwysers wat die onderklere rondgeswaai het moet veroordeel word. “Ons verwys na die kortsigtigheid en onnoselheid van ‘n vakbond wat deur vroue gedomineer word maar ander vroue verneder en onderdruk.” Duisende lede van Sadou het verlede week die strate van Pretoria en Kaapstad ingevaar en geëis dat Motshekga bedank.