Vrystaat-boer tydens plaasaanval geskiet

Andries Cox, ʼn boer van Vredefort, is gewond nadat hy Woensdagoggend in die vroeë oggendure deur twee gewapende rowers op sy plaas aangeval is.

Konst. Peter Kareli, ʼn polisiewoordvoerder van die Vrystaat, sê die voorval het omstreeks 03:30 op sy plaas Middelerf plaasgevind. “Cox (61) was by ʼn veekraal toe hy deur die twee verdagtes oorval is. Hulle het aangedring op geld en vuurwapens en het hom na die huis begelei,” het Kareli gesê.

By die boer se huis het een van die mans Cox se vrou, Anna, wakker gemaak en dieselfde eise gemaak. Die boer het aan die verdagtes gesê dit wat hulle soek is op die tweede verdieping van die huis. Op pad na die tweede verdieping het ʼn struweling tussen die boer en die rowers uitgebreek. Cox is in die proses in die hand en voet geskiet.

“Die mans het juweliersware en selfone gesteel voor hulle van die toneel gevlug het,” het Kareli bygevoeg.

Cox is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling. Anna is ongedeerd maar word vir skok behandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.