Vrystaat-dorpe het glo waterkrisis

Argieffoto

Ten minste 26 dorpe in die Vrystaat staar glo ‘n waterkrisis in die gesig, het die Demokratiese Alliansie (DA) Dinsdag gesê.

“Ten minste 26 dorpe het tans geen water in sekere gebiede nie, of ervaar watervoorsieningsprobleme of het uiters onhigiëniese water wat uit hul krane stroom,” het Patricia Kopane, provinsiale leier van die DA, gesê.

‘n Opname, wat deur DA-verteenwoordigers uitgevoer is, het bevind dat die probleme hoofsaaklik toegeskryf kan word aan “gehawende” waterbehandelingsaanlegte en -pype. Sommige damme in die streek is ook droog.

Die departement van waterwese in die Vrystaat was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

Kopane sê die dorpe wat geraak word is Jacobsdal, Fauresmith, Trompsburg, Bethulie, Smithfield, Zastron, Wepener, Dewetsdorp, Dealesville, Brandfort, Theunissen, Winburg, Soutpan, Tweespruit, Marquard, Clocolan, Steynsrus, Fouriesburg, Memel, Warden, Petrus Steyn, Lindley, Parys, Koppies, Vredefort en Oranjeville.

Sy sê inwoners van die munisipaliteite van Letsemeng, Mohokare, Dihlabeng, Phumulela, en Ngwathe het nie voldoende watervoorsiening nie, “weens swak waterbestuur en ‘n gebrek aan instandhouding”.

In die Naledi en Mantsopa-, Metsimaholo-, Setsoto- en Nketoana-munisipaliteite wissel die probleme van “ondrinkbare water” tot “damme wat heeltemal droog is”.

Kopane sê sy het Dinsdag ‘n formele versoek aan Olly Mlamleli, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, gestuur en haar aangemoedig om ‘n plan te voorsien wat die krisis sal oplos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.