Vrystaat-man vas oor beweerde kinderarbeid

‘n Man is Donderdag in Zastron in die Vrystaat in hegtenis geneem omdat hy glo ‘n 14-jarige seun as ‘n huishulp aangestel het.

“Die departement van arbeid het ‘n saak oopgemaak nadat die seun se ma dit aangemeld het,” het Wisane Mavasa, woordvoerder vir die departement, gesê. “Die seun se ma beweer hy werk sedert verlede Vrydag vir die man en dat hy vyf dae per week van 09:00 tot 16:00 gewerk het vir R30 per dag.” Inspekteurs van die departement het die man besoek en die seun was besig om bome te snoei.

Volgens Mavasa is die seun in graad 6 by ‘n plaaslike skool en het, sedert hy begin werk het, nie skool bygewoon nie. Die man sal Maandag in die hof verskyn.

Indien die man skuldig bevind word, kan hy ‘n boete opgelê word of tot drie jaar tronkstraf gevonnis word.

Die departement waarsku werkgewers om nie kinders vir goedkoop diens aan te stel nie. “Kragtens die Wet op Basiese Diensvoorwaardes is dit ‘n kriminele oortreding om enige kind in diens te neem wat jonger is as 15 jaar, wat volgens die wet die jongste ouderdom is wat ‘n kind die skool mag verlaat; of om enige kind werk te laat doen wat ongeskik is vir hul ouderdom,” het Mavasa bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.