Vrystaat-man vermoor glo sy “duiwel-aanbidder”-vrou

ʼn 20-jarige man is in die Vrystaat in hegtenis geneem nadat hy glo sy 25-jarige vrou vermoor het omdat sy na bewering die duiwel aanbid het.

Sers. Mmako Mophiring, ʼn polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê die gru-moord is Woensdag ontdek nadat die man glo ʼn ruk lank saam met die vrou se liggaam in hul huis, in die Tseseng informele nedersetting in Qwaqwa, gebly het.

“Die man is in hegtenis geneem nadat hy die moord by sy plaaslike raadslid aangemeld het. Hy het vir die raadslid gesê hy het sy vrou, Lebohang Tjobinyana, vermoor omdat sy die duiwel aanbid het en hy dit nie langer kon hanteer nie,” het Mophiring gesê.

Die polisie het die vrou se liggaam op die vloer van ʼn slaapkamer in die huis aangetref. Sy het opsigtelike wonde aan haar kop, bene en hande gehad. Die polisie het ook beslag gelê op ʼn stuk draad en ʼn graaf wat moontlik in die moord gebruik is.

“Die man het sy vrou se liggaam skoongemaak en het vir haar skoon klere aangetrek. Verdere ondersoek het getoon dat die vrou ook verskeie steekwonde aan haar liggaam opgedoen het,” het Mophiring gesê.

Dit is in die stadium nog nie bekend hoe lank gelede die vrou vermoor is nie. Die polisie doen ʼn nadoodse ondersoek om dit te bepaal. Die verdagte moet Vrydag in die Tseseng-landdroshof verskyn op ʼn aanklag van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.