Vrystaat-onderwyser wat glo verkrag borgtog toegestaan

(Foto: Google Maps)

Die 28-jarige onderwyser van Virginia in die Vrystaat wat aangekla word van die verkragting van ʼn matriekseun, is op borgtog van R3 000 vrygelaat.

Die onderwyser van Hoërskool Hentie Cilliers word daarvan beskuldig dat hy ʼn 17-jarige seun na sy huis genooi en toe glo verkrag het.

Kaylynn Palm, hoof Action Society se aksiesentrum, sê dié drukgroep eis geregtigheid vir dié matriekseun.

“Mense in magsposisies moet aan ʼn hoër standaard voldoen. Onderwysers speel veral ʼn deurslaggewende rol in die stryd teen geweld teen kinders. Om daardie vertroue te skend is onaanvaarbaar,” sê Palm.

Palm beklemtoon dat skole ʼn plek moet wees waar kinders veilig en beskerm voel.

Die drukgroep doen ʼn beroep op die onderwysdepartement om strenger maatreëls vir skoolpersoneel te implementeer om te verseker dat kinders veilig is by skole.

(Argieffoto: pixabay)

“Action Society bepleit dat oortreders van seksuele geweld teen vroue en kinders nooit vir borgtog of parool in aanmerking moet kom nie,” sê Palm.

Maroela Media het vroeër berig dat dié beweerde voorval op 15 Maart plaasgevind het. Howard Ndaba, woordvoerder van die departement van onderwys, het gesê die beweerde verkragting het aan die lig gekom nadat die seun lank van die skool afwesig was en daar navraag deur die skool gedoen is oor sy afwesigheid.

Ndaba het gesê die departement werk saam met die skool en sy beheerliggaam om inligting omtrent die beweerde voorval vas te stel.

“Ons veroordeel enige vorm van seksuele misbruik van leerders in ons skole. Skole is veronderstel om leersentrums te wees waar kinders gevorm en gevoed word om verantwoordelike volwassenes te word en nie om aan enige vorm van mishandeling en afknouery onderwerp te word nie.”

Die departement het die skoolbestuur geloof dat hy vinnig opgetree het om die betrokke onderwyser te skors.

Die matriekseun sal berading kry en die skool het akademiese inhaallesse gereël aangesien hy leertyd verloor het tydens sy langdurige afwesigheid, het Ndaba gesê.

Die saak teen die onderwyser is tot 21 Mei uitgestel terwyl die ondersoek na die voorval voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.