Vrystaat se Nala-munisipaliteit is skuldig

Thuli Madonsela Foto: Werner Beukes/SAPA

Die inwoners in die omgewing van Bothaville en Wesselsbron in die Vrystaat se klagtes oor swak dienslewering in dié gebied is Donderdag met die bekendstelling van ʼn verslag uit die openbare beskermer se kantoor geregverdig.

Advokaat Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), en haar ondersoekspan het bevind dat die voormalige burgemeester, munisipale bestuurder en verskeie ander amptenare van die Nala-munisipaliteit hulleself skuldig gemaak het aan wanadministrasie.

“Wanadministrasie het die staat ʼn buitensporige bedrag geld gekos en dit het ook direk tot inwoners se protesoptredes aanleiding gegee,” het Madonsela gesê.

Sy het verder bevind dat daar in die omgewing van R100 miljoen spandeer is aan ʼn spoeltoiletstelsel wat nog nooit gewerk het nie. Die ondersoekspan het tydens hul besoek gevind dat die pype vir die stelsel nooit gelas is nie en sou nie die hoeveelheid riool kon hanteer wat dit moes nie. Madonsela het die onvoltooide rioolwerke ook aan wanadministrasie toegeskryf. Die tussentydse emmerstelsel het ook nie gewerk nie, het gemors en was ʼn gesondheidsrisiko.

Dit het verder aan die lig gekom dat die burgemeester R230 000 bestee het om ʼn veiligheidsmuur om ʼn private woning op te rig en die speaker het ʼn munisipale kredietkaart gebruik om R10 000 se alkohol aan te koop. Soos beweer het die nuwe munisipale bestuurder ʼn bonus van R90 000 ontvang, maar Madonsela het bevind dat dit ʼn rekenaarfout was en die geld is aan die munisipaliteit terugbetaal.

Sy het ook verdere bevindinge gemaak rondom ʼn ontvoltooide behuisingsprojek, park en gemeenskapsaal. In meeste gevalle is daar buite die regulasies van die wet op die bestuur van munisipale finansies en selfs die grondwet opgetree. Dit het tot finansiële wanbesteding gelei en is vererger deur swak kommunikasie tussen die munisipaliteit en die gemeenskap.

“Die munisipaliteit se versuim om te reageer op die aanbevelings van KPMG se forensiese ondersoek, wat hulle reeds in 2010 ontvang het, het die hele situasie net vererger,” het Madonsela gesê. Sy het aanbeveel dat die amptenare wat in KPMG se verslag geïmpliseer is, voor tugverhore gedaag moet word en dat die vermorsde geld teruggeëis moet word van kontrakteurs en die betrokke amptenare.

Sy het verder versoek dat die nodige opleiding in prosedures en regulasies by die munisipaliteit plaasvind.

“Die voormalige munisipale bestuurder, David Shongwe, is nie meer ʼn werknemer van die munisipaliteit nie. Hy werk ook nie vir enige ander regeringsdepartement nie en sal krimineel vervolg word,” het Erika Cilliers van die openbare beskermer se kantoor gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarie van Niekerk ·

Geluk adv. Madonsela, soos gewoonlik ‘n baie deeglike verslag. Dit is skandelik hoe belastingbetalers se geld misbruik word. My voorstel is, fire die hele spul wat in die verslag genoem word. Raak van hulle almal ontslae en kry nuwe mense. Wat is dit met die ANC se bestuurslede op alle vlakke met veiligheidsmure. Hierdie is nou al die hoeveelste veiligheidsmuur wat met belastinggeld deur een of ander ANC-topbestuurslid op elke regeringsvlak gebou word. Die president stel natuurlik hierdie grootse voorbeeld. Ek het niks daarteen as hulle veiligheidsmure om hul wonings bou nie, maar genade tog, gebruik net julle eie geld!!

Kaspaas ·

En kom die volgende verkiesing dan stem die hele spul maar net weer vir die korrupte rassistiese ANC.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.