Vrywilligers gesoek om by ouetehuis uit te help weens staking

Stakers buite Huis Hermon in Pretoria.

Huis Hermon, ʼn tehuis vir bejaardes wat na 165 bejaardes in Pretoria-Noord omsien, kort dringend vrywilligers om na die bejaardes om te sien, aangesien 57 van die 80 personeellede sedert Maandag begin staak het.

Die personeel wat staak behoort aan die vakbond UCAWU en die personeel staak onder andere vir ʼn salarisverhoging van 10%, bonusse, 30 dae stresverlof, en behuising- en vervoertoelae.

“Buiten die 10% verhoging, gaan die ekstra vereistes die tehuis sowat R800 000 kos, en dit is iets wat verregaande en onbekostigbaar is,” het advokaat Bernard Lombard Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Die personeel het Maandagoggend om 06:00 tydens dagskof begin staak. Volgens Lombard is die staking tans beskermend, maar die stakers het sedertdien begin om voor die tehuis se ingang saam te drom en te betoog, waarvoor hulle egter nié toestemming voor het nie.

“Sommige van die betogers het vanoggend [Dinsdag] die nagskofpersoneel intimideer. Gelukkig kry ons baie goeie ondersteuning van die plaaslike polisie wat op die toneel is om die situasie dop te hou. Tans is die situasie kalm,” het Lombard gesê.

Volgens Lombard het hy geen idee hoe lank die staking gaan voortduur nie, aangesien die eise verregaande is, en die vakbondverteenwoordiger sedert Maandag onbereikbaar is.

“Dit is tans vir ons ʼn prioriteit om na ons inwoners om te sien,” het hy bygevoeg.

Die tehuis is dringend op soek na vrywilligers wat kan kom uithelp met alle dienste. Vrywilligers hoef nie noodwendig direk met die bejaardes te werk nie. Die tehuis kort mense wat onder meer kan help met vullisverwydering, skoonmaak, kosmaak en vermaak.

Mense wat belangstel om hulp te verleen kan die tehuis skakel by 012 546 6688.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.