VSA-egpaar sleep Google Maps hof toe ná aanval in township

ʼn Kaliforniese paartjie sleep Google Maps hof toe nadat gewapende rowers hulle aangerand en beroof het toe dié app hulle deur die Wes-Kaapse township Nyanga geneem het.

ʼn Kaliforniese paartjie sleep Google Maps hof toe nadat gewapende rowers hulle aangerand en beroof het toe dié app hulle deur die Wes-Kaapse township Nyanga geneem het. Foto: Pieter Cloete

ʼn Kaliforniese paartjie sleep Google Maps hof toe nadat gewapende rowers hulle aangerand en beroof het toe dié app hulle deur die Wes-Kaapse township Nyanga geneem het.

Jason en Katharine Zoladz van Los Angeles was in die vroeë oggendure van 24 Oktober verlede jaar na die Kaapstad-lughawe onderweg toe ʼn baksteen deur die bestuurskant van hul huurmotor geslinger is. Dit het die ruit versplinter en eers Jason se kakebeen vergruis voordat dit Katharine teen die arm getref het. Die voorval het gebeur terwyl hulle by ʼn rooi verkeerslig gewag het.

Luidens hofstukke wat by die hof in Santa Clara in Kalifornië ingedien is, het die rowers verskeie skote in die lug afgevuur, die egpaar uit die motor gesleep en gevlug met die paartjie se kredietkaarte, selfone en al hul geld.

Drie weke ná die aanval op hulle, het Google onderneem om nie meer gebruikers op dié gevaarlike roetes te neem nie. Dit was wel te laat vir die egpaar. Hulle bring dus die hofaansoek om Google verantwoordelik te hou vir wat hulle bestempel as “onregmatige optrede”.

Die Zoladz-egpaar sê in die stukke Google moet optree “soos ’n redelike versigtige mens in so ʼn situasie sou doen”. Hulle meen die maatskappy moet klante beskerm teen bekende gevare en hulle nie blootstel aan ernstige risiko’s wat bekend is aan die soekenjin nie.

“Amptenare van die Amerikaanse staatsdepartement het dié inligting ook aan Google verskaf en die soekenjin gevra om nie meer Google Maps-gebruikers deur die Nyanga-gebied te lei nie. Die Wes-Kaapse regering en toerismebeamptes het dieselfde pleidooi aan Google gerig,” aldus die stukke.

“Google is vroeg in 2023 deur Suid-Afrikaanse amptenare in kennis gestel dat Nyanga uiters gevaarlik is vir besoekers wat in huurmotors na en van die lughawe reis,” sê die prokureursfirma Dovel & Luner in hofstukke.

“Van hierdie aanvalle laat slagoffers beseer, vermink of dood. Weens dié gewelddadige aanvalle is ’n stuk van die snelweg ‘Hell Run’ gedoop.”

ʼn Google-woordvoerder sê hulle is bewus van die tendens dat mense op sekere Kaapse roetes blootgestel is aan gevaar en dat hulle “sonder plaaslike kennis en intuïtiewe aanvoeling” van hierdie gevaarlike roetes, nie ʼn benul het waarvoor hulle hulself inlaat nie.

Die Zoladz-egpaar voer in die hofstukke aan Google kon die app maklik geprogrammeer het om die gevaarlike roetes te vermy en intydse kennisgewings van die gevare verskaf, maar het egter besluit om geen veranderinge aan hul roetes aan te bring nie of waarskuwingskennisgewings aan gebruikers te verskaf nie.

Luidens die Zoladz-paartjie het die app geen waarskuwing verskaf van die ernstige gevare wat hulle in die gesig staar nie. Weens die voorval het hulle uiterste emosionele nood ervaar en ly hulle steeds as gevolg daarvan. Jason se kakebeen is met vier metaalplate geheg. Hy het deurlopend pyn en ervaar op plekke gevoelloosheid. Nog operasies is nie uitgesluit nie.

  • ʼn Jaar gelede is prof. Gert van der Westhuizen van Gauteng se vrou, Leonie, dood nadat Google Maps hulle óók deur Nyanga geneem het onderweg na die lughawe. Die kortste roete het hulle met die Baden Powell-kuspad deur Nyanga en Kruispad via Borcherds Quarryweg na die lughawe geneem. Die roete van 32 km sou ongeveer 50 minute duur. Op die hoek van New Eisleben- en Stulostraat het die egpaar stilgehou toe ʼn groep jong mans klippe na hul motor gegooi het. Leonie het met die trefslag dadelik haar bewussyn verloor. Haar selfoon is gegryp deur ʼn arm wat na binne gestrek het. Sy het erge, onopereerbare breinbloeding opgedoen en is twee dae later in die hospitaal dood.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Witwax ·

Dan gaan Google Maps maar moet ontrek uit Suid Afrika. Daar is nie n pad in hierdie land waar dit veilig is nie.

Manie ·

Maklik om te se Google moes dit voorsien, moeiliker om dit praktyk te laat werk.

Frank ·

Dat google in kennis gestel is van die gebied is wel nalatigheid van hulle kant om dit nie reg te stel nie maar aan ander kant is daar BAIE paaie in SA wat een dag rustig kan wees en die volgende dag betogings of misdadigheid ervaar, of omgekeerd.
Wat van byvoorbeeld die berugte spykerlokvalle op groot nasionale paaie soos die een tussen (en selfs naby) Pretoria en Witbank?

Frank ·

So ‘n eis behoort in eerste plek teen SAPS en SA regering te wees want hulle is terdee bewus van die probleem en dit is hulle primere plig om die publiek te beskerm

Flip ·

Ek sou eerder sê die hoof van die land se polisie moet verantwoordelikheid vat maar dis net te maklik om ander of apartheid te blameer vir jou eie onbevoegdheid.

Jack ·

Enige toeris moet eers ingelig word oor die gevare in die omgewing waarin hulle gaan beweeg.In Kaapstad is daar verskei roetes wat ek sal vermy.Ongelukkig betaal jy met jou lewe as jy verkeerd ry,verdwaal of nie weet hoe om by jou bestemming uit te kom nie.Hierdie land is ‘n misdaad hool en as jy regtig hier wil kom vakansie hou moet jy jou huiswerk doen oor die roetes en die moets en moenies.

George ·

@Leeubekkie, dis nie vir Google om te se waar jy moet gaan nie, Google Maps of enige GPS gee jou voorstelle, dit bly op die eindverbruiker om te besluit en self te besluit.

hpven ·

Die geweld en misdaad in die land is direk toe te skryf aan die ANC regime! Die moordsyfer van 57 per dag in ag geneem, is dit nêrens in hierdie ANC hool meer veilig nie!

SjN ·

Google maps voer net die opdrag uit wat die verbruiker versoek en invoer, hul moet eerder vir Hoedeman en sy kaders verantwoordelik hou.

Danie ·

Ek reis baie en gebruik meestal Google Maps.
Maar omdat ek baie plekke redelik goed ken ry ek nie altyd waar GM my wil laat ry nie.
En glo my daars is baie baie plekke wat net so gevaarlik is en wat steeds aangedui word deur GM as die vinnigste of kortse roete.
GM kan nie kriminele gedrag beheer nie maar dit is uit en uit GM se verantwoordelikheid om seker te maak dat wat hy vir n motoris aanbeveel wel veilig is.
Ek hoop regtig dat die hofsaak hul oe sal laat oopgaan en dat die app dadelik aangepas sal word.

George ·

@Danie, presies, GM gee jou die kortste en vinnigste roetes, nie veiligste roetes nie.

Bolandse Nooi ·

Hulle gaan maar sukkel om te slaag. Dis so goed ek sê vir iemand om in die vuur te spring is heeltemal OK. Die persoon doen dit dan en verbrand. Daar bestaan wel iets soos die KEUSE om iets te doen (en dan die gevolge te dra) of nie te doen nie. Hulle het GEKIES om Suid-Afrika, die hel-hool van misdaad, te besoek. Hulle het GEKIES om die pad te ry wat Google Maps aangedui het.

Frank ·

Dankie, wil jy vir my se dat Google elke liewe straat in SA daagliks moet evalueer om veiligheid te bepaal? Daar is wel bekende hotspots maar vir ‘n tyd kan een pad onder misdaad deurloop en dan weer vir lank veilig wees en met die berugte spykers op selfs hoofroetes saam met betogings en algemene hoe vlak van misdaad sal dit dalk beter wees vir Google om glad nie meer enige SA roetes te verskaf nie. Jou redenasie is soos om te se vuurwapen vervaardigers moet vuurwapens veiliger maak anders is dit hulle skuld as iemand doodgeskiet word met ‘n vuurwapen.

Frank ·

Ek stem Bolandse Nooi en al ken ek nie daai plek nie, is ek seker die gevaarligte moes seker al lankal geflikker het op daardie roete maar verstand gebruik en omdraai is min.

Hendrik ·

@Leeubekkie . Ons ons dorp is dit heel veilig en dit is nie snaaks as die mense hulle motors sluit nie. Dit hang seker af waar woon jy en hoeveel die gemeenskap doen om die woongebied te beskerm. #Kleinfontein , #GrootToekoms

popsa ·

Toeriste moet dan liewer ander pad ry, sommer buite om SA se landsgrense. As toeris uit die buiteland sou ek die land lankal geheel en al vermy het. Want wat daar gebeur het, kan enige tyd op enige ander plek in hierdie dierbare land plaasvind. Ons wat hier woon, weet dit. En welvarende toeriste staan reeds uit soos seer vingers, daarom is hulle selfs veel meer weerloos as die gewone plaaslike inwoners. Verstommend dat buitelanders SA nog enigsins besoek. Doen liewer eers julle huiswerk mooi vóór die kuier, goeie vriende. Google sal ver moet soek om volledig vreedsame paaie te vind in onse wilde weste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.