VSA-man, SA-vrou in hof na fop-dood

ʼn Voormalige Amerikaanse soldaat wat mense valslik laat glo het dat hy dood is, sal Donderdag in die Sterkspruit landroshof om borgtog aansoek doen.

ʼn Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Luxolo Tyali, sê die man staan tereg op aanklagte van moord en bedrog saam met sy Suid-Afrikaanse vrou, wat verlede jaar Desember op borgtog vrygelaat is. Die egpaar het glo besluit om valslik te beweer dat die man dood is weens finansiële probleme. Tyali sê die man het verskeie lewensversekeringpolisse in sy naam in Amerika. “Die man het glo in Oktober verlede jaar sy motor aan die brand gesteek waarna menslike oorskot in die uitgebrande motor gevind is.” Tyali sê die vrou het na bewering aan die polisie gesê dat die oorskot aan haar man behoort. Sy het hierna glo talle van die polisse laat uitbetaal. Tyali sê die NVG sal aansoek doen om die vrou se borg terug te trek aangesien sy glo nog polisse laat uitbetaal het na haar inhegtenisneming. Die egpaar het in Amerika ontmoet waar albei as soldate gewerk het. Hulle name kan nie bekendgemaak word nie aangesien hulle nog nie gepleit het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.