VSA “sluit” vandag

amerika vlagDie federale staatsdiens in die VSA “sluit” vandag as ‘n stap wat in Amerika as ‘n “shut down” bekend staan.

Die Republikeins-beheerde Huis van Verteenwoordigers het teen gisteraand steeds vasgeskop teen die goedkeuring van die begroting omdat op besparings aangedring word, en die lang messe vir ver al pres. Barack Obama se omstrede gesondheidsplan uit is – wat algemeen as Obamacare bekend staan.

Teen gisteraand, toe dit duidelik was dat ‘n kompromis nie bereik gaan word nie, was Obama steeds vasbeslote om Obamacare van vandag af in te stel.

Vroeër is berig dat staatsamptenare deur die loop van die nag e-posse sou kry om hulle in kennis te stel of hulle vir werk sal moet opdaag, of nie.

Intussen berig die Europese media dat die “shut down” onafwendbaar is nadat alle pogings om dit te voorkom op ‘n breekspul uitgeloop het.

Daar is geraam dat sowat 800 000 van die meer as twee miljoen federale staatsamptenare sou kennis te kry om tuis te bly – wat aanvanklik as onbetaalde verlof sou geld. Amptenare wat vas aangestel is sou wel later vergoed kon word vir hul gedwonge afwesigheid, maar tydelike werkers sal nie betaal kan word nie.

Ook amptenare wat sleutelwerk verrig en nie kan tuisbly nie, soos die verdediging van die land of met buitelandse sake, sal nie noodwendig op hul veronderstelde datums betaal word nie.

Intussen toon peilings dat die “shut down” deur al hoe minder kiesers gesteun word. Volgens die Rasmussenpeiling het die steun daarvoor van 53% twee weke gelede tot 45% afgeneem. Die meeste meen die sluiting sal sleg wees vir die Amerikaanse ekonomie.

Intussen het die kiesers wat meen Obama doen goeie werk tot 51% toegeneem, nadat dit met die aanvanklike oorlogspraatjies oor Sirië in die omgewing van 45% gaan draai het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Goedgedacht ·

“Teen gisteraand, toe dit duidelik was dat ‘n kompromis nie bereik gaan word nie, was Obama steeds vasbeslote om Obamacare van vandag af in te stel.”

Kompromie??

Ver Van Ryn ·

Ek het daaroor ook gewonder, so die persoon wat ‘n kompromie aangaan kon nie bereik word nie? Die sin net bo hierdie is ook so effens lomp: “en die lang messe vir ver al pres. se omstrede gesondheidsplan uit is”

Annelize ·

Albei word aanvaar. Kompromis is dalk net effe meer formeel as kompromie.

Hendrik ·

Dis jammer dat die Republikeine in ‘n eerstewêreldland soos die VSA nie die nut insien om basiese gesondheidsorg aan sy mense te gee nie. Die meeste persoonlike bankrotskappe in die VSA is toe te skryf aan mediese koste. Baie laer middelklas mense het geen mediese versekering nie, en staatshospitale bestaan nie. Dis ongelukkig een van die gevolge van “onbeteuelde kapitalisme” soos professor Sampie Tereblanche sou sê. Maar die ding gaan die Republikeine weer hard byt, soos in die vorige algemene verkiesing toe president Obama herverkies is. Amerika kan iets by die res van die wêreld leer as dit by die sosiale verantwoordelikheid van die staat en vuurwapen wetgewing kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.