VSA weer oop

amerika vlagEuropa het gisteraand gaan slaap sonder om te weet of die wêreld vanoggend in ‘n resessie gedompel is. Later vandag, wanneer die nuwe dag oor die VSA breek, gaan 800 000 federale staatsamptenare wat sedert die “shut down” op 1 Oktober tuis gesit het, weer terug kantoor toe.

Die skuldkrisis wat die VSA om middernag Washingtontyd in die gesig gestaar het is op die laaste nippertjie afgeweer nadat die Republikeine en Demokrate ‘n skikking bereik wat die “shut down” beëindig het.

Op 15 Januarie kan die spulletjie egter weer op ‘n “shut down” uitloop, en op 7 Februarie kan die federale owerheid se geldkraantjie weer toegedraai word as ‘n nuwe skikking oor die skuldplafon nie bereik word nie.

Intussen word kliphard bespiegel oor wie gewen het. Die meeste ontleders meen die Demokrate het op ‘n nerf na beter as die Republikeinse daarvan afgekom, maar pres. Barack Obama het self ‘n knou weg. So ook die beeld van die Kongres wat reeds so slegs was dat peilings getoon het die meeste Amerikaners meen beter Kongreslede kan lukraak uit die telefoongids aangewys word as die verkose lede wat nou daar sit. Met die bereiking van die skikking was Obama se koppige bravade daarmee heen en het hy aangedui hy teken die wet sodra dit op sy lessenaar beland, en dat hy met almal sal saamwerk. Kort hierna is berig dat die president die wet in die middernagtelike ure onderteken het.

Met die ter perse gaan kort voor die finale beskikking bereik is, het die Christian Science Monitor ‘n ontleding gepubliseer van hoe goed of sleg die verskillende rolspelers daarvan afgekom het. Pres. Barack Obama se gewildheid het tot ‘n rekord-laagtepunt gedaal op ‘n indeks wat die gemiddeld van verskillende peilings meet.

Gistermiddag was Europese koerante hoopvol dat die krisis in die laaste loopgraaf afgeweer sou word, en beurse het in afwagting selfs versterk, maar was tog bekommerd dat iets op die laaste nippertjie kon skeefloop en die wêreld vanoggend kniediep in ‘n nuwe resessie sou wakkerword.  Daardie vrese is nou besweer – maar net voorlopig.

Die Republikeine, aangevuur deur die tea party-faksie, het immers nou die resep gekry oor hoe om Obama te verhinder om te maak soos hy lus het. En die Wit Huis se gereelde luukse onthale was nou al ‘n ruk lank danksy die druk heelwat minder. Al het die Demokrate net-net die beste daarvan afgekom, sorg die Republikeine dat daar nie geld vir voortydige feesvieringe is nie.    

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.