KFC het onvoorwaardelik om verskoning gevra vir ʼn aanstootlike en vulgêre weergawe van die volkslied wat vroeër die week in een van sy restaurante in Kaapstad gespeel is.
ʼn Klant het aanstoot geneem na hy die liedjie van Shane McCallaghan, getiteld Die Nuwe Volkslied, by die KFC in Buitenkantstraat gehoor het. Die liedjie is ʼn gewysigde weergawe van die volkslied. “Die liedjie bevat bewoording soos ‘Nkosi is ʼn regte f****n d**s’ en ‘Mandela is ʼn k*****’”, het die klant gesê.
Die ANC in die Wes-Kaap het Donderdag ʼn ondersoek geëis.
KFC het Vrydag in ʼn verklaring gesê dit was ‘n “geïsoleerde voorval”. Hulle sê hulle het onmiddellik dissiplinêre stappe teen twee werkers geneem wat daarvoor verantwoordelik was. “KFC veroordeel rassisme ten sterkste en vra onvoorwaardelik om verskoning vir die misdryf,” het die maatskappy gesê.
ʼn Hoof uitvoerende bestuurder van ʼn sekuriteitsmaatskappy is in 2009 hof toe gesleep nadat dieselfde liedjie by ʼn potjiekoskompetisie, wat by Sun City gehou is, gespeel is. Een van die sekuriteitsmaatskappy se werknemers is later vir die voorval blameer en ontslaan.