Vyf ‘bankrowers’ vas ná skietgeveg

Vyf vermeende bankrowers is Dinsdag in hegtenis geneem nadat hulle vroeër die dag ʼn Absa-bank in die Oos-Kaap beroof het.

Brig. Marinda Mills, ʼn polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê die rowers het op ʼn Absa-bank in Joubertina toegeslaan en ʼn onbekende bedrag geld beroof.

“Een van die klerke is tydens die aanval met ʼn vuurwapen aangerand en het hoofbeserings opgedoen,” het Mills gesê.

Die rowers het in ʼn swart Corsa-bakkie van die toneel gevlug. Polisie van die Oos-Kaap en Wes-Kaap is oor die voorval ingelig en verkeie padblokkades is opgerig. “Polisiebeamptes by ʼn padblokkade tussen Uniondale en George wou later drie voertuie by die blokkade deursoek, toe insittendes van een van die voertuie op die polisie losgebrand het. Die polisie het teruggeskiet en een van die verdagtes gewond,” het Mills gesê.

Vyf verdagtes is in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op drie voertuie. Die voertuie is as gesteel aangemeld en die polisie is besig om hul eienaars op te spoor.

“Daar word vermoed dat ʼn bende van tien rowers by dié bankroof betrokke was. Die polisie soek nog na die ander vyf verdagtes. Die gesteelde geld en die vuurwapens wat in die rooftog gebruik is, is nie tydens die padblokkade gevind nie,” het Mills bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.