Vyf mense op “Vuurwapenwaarderingsdag” beseer

Argieffoto

Vyf mense is Saterdag tydens “Vuurwapenwaarderingsdag” by drie skoue in North Carolina, Ohio en Indiana in Amerika beseer.

In Raleigh, North Carolina, is drie mense beseer toe ‘n gelaaide haelgeweer per ongeluk by die Dixie Vuurwapen- en Messkou afgegaan het. Gary Lynn Wilson (36) se haelgeweer is nagegaan voordat hy die skougrond betree het, toe die voorval gebeur het. Hy was besig om die 12-boor-haelgeweer se sak oop te rits toe donshael per ongeluk afgevuur is en drie mense getref het. Wilson was van plan om die vuurwapen privaat by die skou te verkoop.

Die drie slagoffers, Janet Hoover, Linwood Hester en Jake Alderman is onderskeidelik in die regterbors, linkerhand en regterhand getref, het WNCN berig. Hulle is in ‘n stabiele toestand na die hospitaal geneem.

Daniel Peadan, ooggetuie, het gesê hy was nog buite die gebou toe hy die slag gehoor het. “Die mense by die deur het begin hardloop, almal het uitmekaar gespat en dit was chaos,” het Peadan gesê.

“Dit was ‘n ongeluk,” het Brian Long, ‘n woordvoerder vir die North Carolina departement van landbou en verbruikersake, gesê. Die skou is vroeg Saterdag opgeskort. Privaatvuurwapenverkope sal nie Sondag toegelaat word nie. Die skou se webwerf het Saterdagaand aangedui, “Geen persoonlike vuurwapens sal by die skou toegelaat word nie.”

Die sheriff se departement sal die voorval ondersoek.

‘n Uitstaller in Medina, Ohio, het ‘n vuurwapenboks oopgemaak toe die vuurwapen afgegaan en sy vennoot, wat langs hom gesit het, getref het, het NBC-stasie WKYC berig. Die slagoffer is in die arm en bobeen getref en in ‘n stabiele toestand na die hospitaal geneem. Die polisie het bevestig die skietvoorval was ‘n ongeluk. ‘n Man wat die skou bygewoon het, het glo die vuurwapen aan die uitstaller verkoop.

In Indianapolis was ‘n 54-jarige man besig om sy .45 semi-automatiese vuurwapen te laai toe hy homself in die hand geskiet het, berig Huffington Post. Die slagoffer, Emory L. Cozee, was oppad om die Indy 1500 Vuurwapen- en Messkou te verlaat toe die voorval plaasgevind het. Gelaaide persoonlike vuurwapens word nie in die skou toegelaat nie. Cozee is na ‘n hospitaal geneem. Die polisie het bevestig dit was ‘n ongeluk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.