Vyf noodsaaklikhede om voor Vrydag te doen

‘n Hawelose hond. (Foto: Lenka Novotna/Pixabay)

Almal skarrel rond om inkopies te doen en noodsaaklike dinge in plek te kry voor Suid-Afrika se 21 dae van afsondering om die verspreiding van die koronavirus te stuit Donderdag aanbreek. Maar terwyl ons besig is met ons eie dringende lysies, moet ons nie vergeet van die mense en instansies om ons wat in ʼn tydperk van isolasie baie meer uitgelewer gaan wees nie.

Hier is vyf dinge wat jy in die volgende twee dae kan doen om ʼn daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak:

  • Gaan skenk bloed. Hoewel bloedskenk beskou word as een van die redes waarom jy mág reis tydens die isolasie-tydperk en die SANBS se skenkingsentra oop gaan wees, gaan jy heel moontlik nie daarby uitkom nie, omdat jy en jou gesin soveel moontlik tuis gaan bly. Klik hier om te kyk waar jy kan gaan skenk.
  • Laai ʼn sak honde- of katkos by ʼn diereskuiling of die DBV in jou dorp of omgewing af. Dié instansies is afhanklik van die publiek vir ondersteuning. Van die instansies waar jy ʼn draai kan maak, is jou plaaslike DBV-tak, Paws of Cape Town in Kaapstad, Huis Toe-dierewelsyn in Bloemfontein, Project Dog in Durban, die Animal Welfare Society in Port Elizabeth, Woodrock-diereredding in Centurion, Wollies-diereskuiling in Pretoria en Wetnose-diereskuiling in Johannesburg. As jy in ʼn ander dorp of stad bly, soek vir “animal shelter” in ʼn soekenjin om een naby jou te vind.
  • Vra in jou buurt rond of daar dalk bejaardes of siek mense is wat hulp nodig het met noodsaaklike inkopies. Iemand naby jou mag dalk vervoer hê, maar huiwerig wees om nou winkel toe te gaan weens hulle vatbaarheid vir die koronavirus. Vra op jou buurt of buurtwag se WhatsApp-groep of daar iemand is wat hulp benodig.
  • As jy weet daar is ʼn gesin naby julle wat finansieel swaarkry, koop vir hulle ʼn paar basiese benodigdhede en gaan lewer dit af.
  • Haal oortollige linne soos komberse en lakens uit en neem dit na ʼn skuiling vir haweloses.
  • Soek storieboeke, bordspeletjies, speelkaarte en legkaarte uit wat julle as gesin nie meer nodig het nie, en gee dit af by ʼn kinderhuis of ʼn tehuis vir bejaardes. Kinderhuise sal kinder- en tienerboeke verwelkom, terwyl veral grootdrukboeke handig kan wees vir ʼn tehuis vir bejaardes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

In tye van n krisses is baie mense soms so vasgevang in hul eie denke van hoe om te oorleef dat n hul soms vergeet van die weerloses om n mens , dankie vir die artikel, ek sal beslis uitreik.

Breytie

Die verwysing hier en in ‘n ander berig na Vrydag as die begin van die isolasietydperk verwar my. Daar is aangekondig dat die tydperk begin “om middernag 26 Maart”. ‘n Dag begin om middernag en eindig om middernag, Daarom begin 26 Maart wanneer 25 Maart om middernag eindig, Vrydag sal dus die tweede dag van die periode moet wees. As ek verkeerd is, kan iemand my reghelp asseblief.

Sandra

Soos die mense nou tekere gaan lyk dit of die einde van die wereld in aantog is. Winkelrakke is leeg, trollies swig onder die inkope, en more…. is almal bakhand, want hulle het te veel uitgegee op onnodige goed.

ES

Mense soos ek gaan werk gedurende hierdie tyd om seker te maak dat ander nie paniekbevange hoef te wees nie.