Vyf renosters al in 2013 gestroop

Argieffoto

Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) het Dinsdag gesê hulle het reeds drie renosters sedert die begin van die jaar verloor.

In die eerste voorval is twee witrenosters in die Houtboschrand-gedeelte van die Kruger Nasionale Park doodgeskiet. “Dit blyk dat die twee diere op 1 Januarie deur ‘n stropergroep van Mosambiek doodgeskiet is,” het Abe Sibiya, uitvoerende bestuurder van Kruger Nasionale Park, gesê. “Hul horings is verwyder en die groep het ontsnap.”

In die tweede voorval het wildbewaarders wat in die Laer Sabie-gebied ontplooi is, op ‘n groep van drie vermeende stropers afgekom. ‘n Skietgeveg het uitgebreek en die drie mans het ontsnap, maar ‘n jaggeweer en ‘n stel renosterhorings is agtergelaat. Tydens ‘n ondersoek is die karkas van ‘n witrenoster, wat se horings verwyder is, is opgespoor. “Dit is nie die ideale manier om die jaar mee te begin nie, maar ons leer baie uit die inisiatiewe wat ons in plek gestel het, veral die lugwaarneming. Ons maak wel vordering,” het Sibiya gesê.

Twee renosters is Maandag in die Noordwes-provinsie doodgemaak, het die provinsiale departement van omgewingsake, gesê. “Die eerste renoster is Saterdagaand dood aangetref,” het Dumisa Seshabela, woordvoerder vir die departement, gesê. “Beide horings van die renosterbul is verwyder.”

Die tweede renoster se karkas is Maandagaand opgespoor. “Wildbewaarders het Maandagaand omstreeks 19:45 skote gehoor.” Die horing is nie verwyder nie, aangesien die vermeende stropers vermoedelik gesteur is.

Die nasionale departement van omgewingsake het op 19 Desember bevestig 633 renosters is in 2012 in Suid-Afrika gestroop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.