Vyf renosterstropers vas

Die Phalaborwa-polisie het Dinsdagaand vyf mans in hegtenis geneem wat glo onderweg was om renosters in die Krugerwildtuin te stroop.

Brig. Hangwani Mulaudzi, ʼn polisiewoordvoerder van Limpopo, het Woensdag gesê die polisie het inligting ontvang dat die stropers toegang tot die wildtuin by sy Phalaborwa-hek sou kry.

“Die verdagtes het ten doel gehad om renosters in die park te skiet en te onthoring,” het Mulaudzi gesê.

“Die polisie was op hoë gereedheid en die verdagte voertuig met vyf insittendes is omstreeks 19:00 Dinsdagaand in ʼn parkeergebied van ʼn plaaslike winkelsentrum gesien. Die polisie het die vyf verdagtes in hegtenis geneem. Hulle het beslag gelê op ʼn jaggeweer met ʼn knaldemper, ammunisie, ʼn slagtersmes en ʼn byl.”

Volgens Mulaudzi is drie van die verdagtes van Giyani en die ander twee van Mosambiek.

Hulle moet Donderdag in die Phalaborwa-landdroshof verskyn.

Die polisie het die publiek herinner dat ʼn beloning van tot R500 000 uitgereik word vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisname van renosterstropers en -handelaars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.