Vyf skolerugbyspelers uit die see gered

NSRI in Port Edward Foto: NSRI

Vyf skoliere is Donderdag in Port Edward in die see meegesleur toe hulle ná rugbyoefening wou gaan swem.

ʼn Plaaslike visserman het gesê die vyf kinders, tussen 13 en 14 jaar oud, is by Grannies Pool, sowat een kilometer suid van Port Edward se hoofstrand, deur ʼn systroom meegesleur. “Dit lyk of ʼn groep jong rugbyspelers van The Woods-skool in Port Edward strand toe is om te gaan swem,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), gesê. “Drie is deur ʼn systroom meegesleur en twee het in die golwe in die moeilikheid beland terwyl hulle hul vriende wou red.”

ʼn Plaaslike man het een van die seuns gered en een van die tieners kon een van sy skoolmaats red. Die ander drie het ook veilig op die strand beland. “Twee van die seuns is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem. Een het amper verdrink en is vir dié simptome behandel. Een van die seuns het ernstige knie- en beenbeserings opgedoen,” het Lambinon bygevoeg.

Die ander drie seuns is nie beseer nie.

Lambinon sê hy vermoed die seetoestande was rof weens die springgety met volmaan. “Springgety bereik sy hoogtepunt tydens volmaan en veroorsaak sterker systrome.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.