Die vragmotor het Dinsdagmiddag in Peggy Veraweg in Kiblerpark, suid van Johannesburg, teen vier ander motors gebots waarna die vragmotor en die motors aan die brand geslaan het. Vyf mense, insluitend ʼn baba, is op die toneel dood verklaar terwyl 13 mense beseer is en na nabygeleë hospitale vervoer is vir verdere behandeling. Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, sê die bestuurder van die vragmotor sal tereg staan op vyf aanklagte van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur. Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, sê die oorledenes is onherkenbaar verkool in die botsing. Mulaudzi sê brandbestryders het vir ure gespook om die brande onder beheer te bring.
Intussen is nog twee mense dood en drie beseer toe hulle voertuig teen ʼn boom gebots het, ook in Peggy Veraweg, terwyl paramedici steeds op die toneel van die vorige ongeluk was. Mulaudzi sê dié ongeluk het sowat 500m van die vorige ongeluk plaasgevind. Die drie beseerdes is op die toneel behandel voor hulle na nabygeleë hospitale geneem is. Mulaudzi sê hulle is ernstig beseer.