Vyf Suid-Afrikaners in top tien van Comrades

Vyf Suid-Afrikaners het in die top tien van die Comrades-marathon geeindig.

Ludwick Mamabolo het die 2012 Comrades-marathon met ʼn tyd van 05:31:03 gewen. Dis die eerste keer in sewe jaar dat ʼn Suid-Afrikaner dit regkry.

Hy is gevolg deur nog ʼn Suid-Afrikaner, Bongmusa Mthembu, wat die ultramarathon met ʼn tyd van 05:32:40 voltooi het.
Mamabolo en Mthembu is gevolg deur Leboka Noto van Lesotho, Marko Mambo van Zimbabwe, Leonid Shvetsov van Rusland, Stephen Muzhingi van Zimbabwe, Lephetesang Adoro van Lesotho, Gift Kehele van Suid-Afrika, Claude Moshiywa van Suid-Afrika en Petros Sosibo ook van Suid-Afrika.

Die Rus, Elena Nurgalieva, raap haar sewende goue medalje op deur die vroue-afdeling van die Comrades-marathon met ʼn tyd van 06:07:12 te wen. Sy sê dit was vir haar ʼn moeilike wedloop omdat dit so vinnig gehardloop is. Nurgalieva het ook gesê sy het gesukkel met haar maag en het maagpyn in die eerste 30km van die wedloop gehad. Ten spyte van hierdie probleme het sy haar beste tyd nog gehardloop.

Sy is gevolg deur Eleanor Greenwood van Brittanje en Marina Zhalybina. Die eerste Suid-Afrikaner, Kerry Koen, het in die sesde plek met ʼn tyd van 06:45:00 ingekom.

Gert Thys, wat teen die halfpadmerk met sewe minute voorgeloop het en gelyk het of hy ʼn rekordtyd sou opstel, het ongelukkig nie die wedloop voltooi nie. Kommentators was dit eens dat vanjaar se uitslae net weereens ʼn bewys is dat atlete beter resultate lewer as hulle dié marathon stadiger begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.