Vyf vas ná moord op boer

Vyf verdagtes, onder wie ʼn 13-jarige seun, is in hegtenis geneem ná die moord op die 70-jarige boer, Owen Charles.

Charles is Sondagaand op sy plaas Armadale, naby Jansenville in die Oos-Kaap, tydens ʼn plaasaanval doodgesteek. Sy vrou, Jenny, is tydens die voorval ernstig gewond en is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal met veelvoudige steekwonde.

Daar is aanvanklik berig dat vyf gewapende mans die egpaar se huis tussen 19:00 en 22:00 betree het, maar majoor Ernest Sigobe, ʼn polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media bevestig dat ses mense by die voorval betrokke was. Die verdagtes het met Charles se bakkie van die toneel gevlug.

Volgens Sigobe is vyf van die ses verdagtes Maandagaand aangekeer ná ʼn wilde jaagtog deur die strate van Knysna. “Verkeersbeamptes het die gesteelde voertuig opgemerk en vir die bestuurder aangedui om van die pad af te trek. Die bestuurder het egter probeer vlug, wat tot ʼn jaagtog gelei het. Die bestuurder het op die ou einde beheer oor die voertuig verloor en gebots. Drie verdagtes, tussen die ouderdom van 17 en 22 jaar oud, is ernstig in die ongeluk beseer. Hulle is onder polisiebewaking in die hospitaal. Die ander twee verdagtes, onder wie ʼn 13-jarige seun, is in aanhouding by die Knysna-polisiestasie,” het hy gesê.

Die soektog na die sesde verdagte duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Petro Doman ·

Ja, en die manne is almal deur die verskriklike apartheid van die verdomde wit Verwoerd te na gekom – hulle het glad nie toegang tot skole gehad nie, hulle kan nou-nog nie na hulself omsien nie, en bowenal hulle het in plakkerskampe gewoon wat deur mense self gestig is wat nie in behoorlike beplande gebiede met dienslewering wou bly nie! En siestog, die arme ou 13-jarige! Wat kan mens se?
Dit, mede burgers is ons volgende generasie government officials! Almal opgeneem in die berugte jeugvleuel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.