Vyf vas oor gesmokkelde sigarette

Argieffoto

Vyf mans, insluitend twee polisiebeamptes, is by die Zeerust-polisiestasie in Noordwes in hegtenis geneem vir die beweerde diefstal van gesmokkelde sigarette.

“Die polisie het inligting ontvang oor mense wat goedere steel van ‘n vragmotor, wat Vrydag omstreeks 01:00 by die polisiestasie parkeer gestaan het,” het kol. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie in Noordwes, gesê. Die polisie het die situasie dopgehou en glo gesien hoe twee lede van die honde-eenheid goedere uit die vragmotor in ‘n polisie-bakkie laai. Die beamptes het weggery, en die motor is dopgehou. “Die twee beamptes is tot by Shalimapark in Zeerust gevolg, waar hulle afgetrek en versoek is om na die stasie terug te keer,” het Mokgwabone gesê.

Die voertuig is oopgemaak en drie mans en 12 bokse onwettige sigarette ter waarde van R25 000 is agter in die bakkie opgespoor. Mokgwabone sê die twee beamptes was nie aan diens nie, maar hulle het nie die amptelike voertuig parkeer soos hulle moes nie. Die vyf mans, tussen 28 en 44 jaar oud, is in hegtenis geneem en van diefstal en die besit van gesteelde goedere aangekla. “Die twee beamptes sal ook van die gebruik van ‘n amptelike voertuig, sonder toestemming, aangekla word.” Die mans sal na verwagting Maandag in die Zeerust-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.