Vyf mense is Vrydag in Midrand in hegtenis geneem nadat daar uniforms van die Johannesburgse metropolisie in hulle besit gevind is.
Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die metropolisie, sê die mans het in twee Volkswagen Polos gery toe hulle deur die polisie voorgekeer is en die motors deursoek is. Die polisie het op die uniforms en ʼn vuurwapen beslag gelê. “”n Ondersoek sal geloods word aangesien daar die afgelope week kriminele voorvalle aangemeld is waar kriminele hulle as polisiebeamptes en metropolisiebeamptes voorgedoen het.” Die polisie verwag om nog mense in hegtenis te neem. Vroeër die week het ʼn groep mans wat hulself as metropolisiebeamptes voorgedoen het twee motoriste in Midrand gekaap en hul motors gesteel.