Vyf wat glo studente teister is aangekeer

‘n Groep van vyf verdagtes, wat studente glo al die afgelope twee jaar lank teister, is deur twee toegewyde polisiebeamptes in Limpopo aangekeer.

“Die verdagtes het hoofsaaklik op studente, wat kamers buite die kampus huur, gefokus,” het kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, Donderdag in Limpopo, gesê. “Die verdagtes het glo toegeslaan wanneer dié studente na en van die kampus huis toe geloop het. Hulle het in groepe van twee of drie saamgewerk om die slagoffer te oorweldig, hulle in ‘n bos in te trek en dan te verkrag.”

Volgens Otto is van die studente met ‘n vuurwapen aangehou terwyl hulle verkrag is.

In sommige gevalle het die verdagtes glo ook deur die nag in die slagoffers se kamers ingebreek en hulle om die beurt verkrag. Verskeie sake van verkragting en gewapende roof is van 2011 tot op hede aangemeld.

“Die twee speurders, ao Rapudi en Monyepao, het ‘n spesifieke neiging en modus operandi bemerk en het hul ondersoek verskerp. Hulle het dossiere en hul ondersoeke begin konsolideer,” het Otto bygevoeg. Só het hulle uiteindelik die beweerde leier van die groep, Lucas Matome Phoshoko (27), aangekeer. Hy is in hegtenis geneem en ‘n verdere ondersoek het tot die inhegtenisneming van vier ander verdagtes gelei. Hulle kan glo almal verbind word aan agt sake van verkragting, sewe van gewapende roof en twee sake van poging tot moord.

Die verdagtes, Lucas Matome Phoshoko, Samuel Pheagane Ramollo (22), James Molebaleng Mahlatji (27), Michael Makgoba Mathekga (26) en Charles Mamolotsa Moreroa (24) het reeds in die hof verskyn op aanklag van verkragting, gewapende roof en die sake teen hulle is tot 18 Julie uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.