Die polisie van Limpopo het Dinsdag die publiek se hulp versoek om ʼn verdagte vas te trek wat ʼn vyfjarige meisie moontlik verkrag, erg aangerand en vir die dood in ʼn veld agtergelaat het.
Volgens kol. Ronel Otto, ʼn woordvoerder van die polisie, is die meisie verlede Donderdag deur ʼn verdagte oorval toe sy ná skool huis toe geloop het in die Capricorn informele nedersetting in Morebeng. “Sy het nooit by die huis opgedaag nie, en is dieselfde dag nog as vermis aangemeld,” het Otto gesê.
Volgens Otto is ʼn soektog van stapel gestuur, maar die meisie is eers Sondagaand omstreeks 21:00 gevind nadat ʼn voetganger op haar liggaam in ʼn digbebosde gebied afgekom het. “Sy het nog gelewe, maar was erg aangerand en haar liggaam was vol beserings. Sy is vermoedelik ook verkrag,” het Otto bygevoeg.
Sy is na ʼn hospitaal in Botlokwa gehaas vir verdere behandeling. Vandaar is sy in ʼn ernstige toestand na die Polokwane-hospitaal oorgeplaas.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Lt.genl. Simon Mpembe, die provinsiale kommissaris, het die voorval streng veroordeel. Hy sê die polisie sal alles in hulle vermoë doen om die skuldige op te spoor. Hy versoek dat enigiemand met inligting met die polisie in verbinding sal tree deur 10111 te skakel.
Eerstens, 5jare wat alleen huis toe loop van skool af???? En tweedens, ons lewe in ‘n land met gewetenloose monsters!
5 jaar en sy moet alleen huis toe loop. Oor my dooie liggaam sal ek toelaat dat ‘n kind van 5 alleen huis toe stap. Veral nie in die tye wat ons tans in leef nie. Ons almal weet dat daar siek mans daar buite ronddwaal, en ‘n kind van 5 kan geen weerstand bied nie. Gelukkig is sy gevind. Arme kind.