“Wag buite, ek is nog besig,” sê dief vir huiseienaar

‘n Man van Kaapstad is oor die naweek op heterdaad betrap terwyl hy by ‘n huis ingebreek het.

Die man het glo aangevoer hy het by die huis ingebreek om gemeenskap met ʼn vrou te hê, het die Daily Voice Maandag berig. Die huiseienaar, ‘n 34-jarige man van Philippi wat annoniem wou bly, het aan die koerant gesê hy het Vrydagmiddag by die huis gekom en gesien dat die slot van sy plakkershuis verwyder is.

Toe hy die deur wou oopmaak, het hy besef dit is van binnekant af gesluit, en gevra wie binne die huis is. “Die man het geantwoord ek moet eers buite my huis wag, want hy het gemeenskap met ‘n vrou en hy sal oopmaak sodra hulle klaar is,” het die man aan die koerant gesê. “Ek kon nie verstaan hoe iemand sommer so in ‘n vreemdeling se huis sal instap om dit te doen nie.”

Die eienaar het glo aanhoudend aan die deur begin klop, waarna die verdagte uiteindelik die deur oopgepluk en die eienaar met ‘n skerp voorwerp gesteek en gevlug het. Die inwoners het egter die vermeende dief opgespoor en begin slaan. “Terwyl die man op die grond gelê het, is my beursie en geheuestokkie in sy besit gevind,” het die slagoffer gesê.

Daar kon nog nie vasgestel word of die polisie die verdagte in hegtenis geneem het nie.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.