Wag skiet glo passasier in JHB

ʼn Veiligheidswag is in hegtenis geneem nadat hy glo ʼn passasier Saterdag by die Mayfair-treinstasie in Johannesburg doodgeskiet het.

Adjudant-offisier Xoli Mbele, woordvoerder van die polisie, het Maandag gesê die 29-jarige wag en twee ander passasiers het by die stasie in ʼn rusie betrokke geraak. “Die wag het glo die twee passasiers aangespreek omdat hulle op die platform gesit en alkohol drink het,” het Mbele gesê.

Die twee passasiers het die wag glo begin aanrand. Hy het sy pistool uitgehaal en drie waarskuwingskote in die lug in gevuur.

“Die mans het aangehou om die wag aan te rand en die wag het een van die mans (24) geskiet,” het Mbele gesê.

Die man is op die toneel dood verklaar. Die wag is in hegtenis geneem en van sy dienspistool ontneem. Hy moet binnekort in die Johannesburgse landdroshof verskyn op ʼn aanklag van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.