Wallabies klop Leeus in Melbourne-riller

Australië het hul hoop vir ‘n reeksoorwinning oor die Britse en Ierse Leeus lewendig gehou toe hulle met 16-15 in Melbourne geseëvier het.

Nadat Kurtley Beale verlede week ‘n strafskop in die doodsnikke van die wedstryd in Brisbane gemis het en sy span sodoende die eerste toets verloor het teen die Leeus, het die immerbetroubare Leigh Halfpenny in die tweede toets dieselfde oorgekom toe hy ‘n massiewe 60 meter strafdoel voor die eindfluitjie verbrou het. Die beslissende wedstryd word volgende week in Sydney gespeel.

Hoewel die Aussies vanaand die vreugdevure hoog sal laat brand, kan hulle hulself egter gelukkig ag om vandag as oorwinnaars van die veld af te stap. Hul balhantering en besluitneming was vir die grootste deel van die wedstryd bra power met verskeie belowende aanvalle wat skipbreuk gelyk het weens balle wat aangeslaan of wild weggegooi is. Die Leeus se skrum het die Wallabies ook vir die grootste deel van die wedstryd onder reuse-druk geplaas en die tuisspan is juis hieroor op die telbord danksy Halfpenny se skopvoet gestraf.

Die wedstryd het teen ’n hoë tempo afgeskop en die Leeus wou klaarblyklik die reeks met inklimspel beklink. Hulle was briljant en onverbiddellik by die afbreekpunte en het die Aussies telkens daar uitoorlê. Nadat Halfpenny ‘n strafdoel oorgeklits het, het die Wallabies se heelagter, Christian Leali’ifano, met twee strafdoele geslaag weens skrumoortredings deur die Leeus. Daarna het die Wallabies weer gesondig deur die skrum te laat intuimel en Halfpenny het die Leeus met 9-6 laat voorloop. Leali’ifano en Halfpenny het elkeen met nog ’n strafdoel geslaag om die halftydtelling 12-9 in die guns van die Leeus te maak.

Die tweede helfte het ongetwyfeld aan die Leeus behoort danksy hul rotsvaste verdediging, die voorspelbaarheid van die Wallabies se aanvalle en die besoekers se slim spel by die afbreekpunte. Halfpenny het sy span se laaste punte deur middel van ‘n strafskop aangeteken toe die Aussie-voorry weer harde bene in die skrum gekou en oortree het. Nadat die Wallabies se aanvalle dikwels deur swak hantering aan bande gelê is, het hul buitesenter, Adam Ashley-Cooper, oorgeduik vir die wedstryd se enigste drie toe hulle geduldig die bal deur etlike fases behou en toe naby die doellyn laat loop het. Leali’ifano het onder groot druk ‘n skuins skop deur die pale gejaag om sy span te sege te verseker.

As die Wallabies volgende week wil seëvier en die reeks wil wen, sal hulle egter op meer as net sekere indiwidue soos Will Genia en Israel Folau moet staatmaak en hul balhantering verbeter. Andersins gaan die Leeus hul eerste reeksoorwinning sedert 1997 behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.