ʼn 15m-lange walvis is Woensdag in Tafelbaai gered nadat dit in toue verstrengel geraak het.
Die SA Whale Disentanglement Network (SAWDN) is ontbied nadat werknemers van Transnet die verstrengelde walvis opgemerk het. “Die toue was om die dier se maag geknooop en was ook om sy stert gekoek,” het Craig Lambinon, ʼn woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê.
“Die walvis het baie moeg voorgekom wat die indruk skep dat dit al vir ʼn geruime tyd verstrengel was. Dit was in ʼn baie swak toestand,” het hy gesê.
Die toue is op 27 plekke gesny om dit te probeer verwyder. Die hele tou kon egter nie verwyder word nie, want dit het in die dier se vetweefsel vasgesit.