ʼn Jong boggelrugwalvis het die naweek op die rotse naby Southbroom, KwaZulu-Natal, uitgespoel.
Volgens Alan Stilwell, van die Port Edward se Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het hulle Saterdag op ʼn oproep reageer dat ʼn walvis op die rotse vasgekeer is.
“NSRI-vrywilligers van Port Edward en personeel van die Natalse Haaieraad het gaan ondersoek instel en die jong walvis dood op die rotse aangetref,” het Stilwell gesê. “Die vrywilligers het tot hoogty gewag en die karkas in die water ingetrek. Hierna het hulle die walvis na die strand geneem waar die nodige owerhede ontbied is om van die karkas ontslae te raak.”
Die oorsaak van die walvis se dood is nog nie bekend nie. Die haaieraad sal monsters ontleed.