Wanneer kry die ander haweloses ook huise, Zuma?

Argieffoto

Solidariteit Helpende Hand betwyfel die ware rede vir president Zuma se oorhandiging van ongeveer 100 huise aan onder andere die inwoners van die Bethlehem-skuiling in die weste van Pretoria.

Volgens die presidensie is die Danville/Elandspoort-projek as ʼn vlagskip-projek geïdentifiseer om die Bethlehem-skuiling heeltemal tot niet te maak nadat Zuma die skuiling drie keer besoek het. Hy het ook beloftes oor beter mediese dienste, toegang tot maatskaplike toelaes en ander munisipale dienste gemaak.

“Dit is betreurenswaardig dat pres. Zuma mense met huisvesting omkoop vir stemme in die komende verkiesing,” sê Christine Breet, adjunk-hoof van Solidariteit Helpende Hand. “Hy het die Bethlehem-skuiling ook ʼn vorige keer in 2008 in aanloop tot ʼn verkiesing besoek en toe beloftes gemaak wat nou inderhaas volbring moet word.”

“Ongelukkig is 100 huise, waarvan nie eens 20 vir die wit inwoners van die Bethlehem-skuiling geallokeer is nie, te min om waarlik ʼn verskil aan armoede te maak,” sê sy. “Wat van die ander meer as 70 oorwegend wit skuilings regoor Pretoria waar mense ook nie ordentlike verblyf het nie? Om nie eens te praat van die duisende mense in die res van die land nie.”

Na wat verneem word, is net 17 huise in Mei en Junie aan die voormalige Bethlehem-inwoners geallokeer. Intussen is hierdie voormalige inwoners se plekke by die Bethlehem-skuiling dadelik weer ingeneem deur ander haweloses.

“Armoede is een van die realiteite van ʼn regering wat nie doeltreffend funksioneer nie,” sê Breet. “Ongelukkig is dit ook een van die grootste motiveerders om persone te kry om hulle stemme aan ʼn bepaalde politieke party toe te sê.

“Armoedeverligting benodig daadwerklike aandag en oplossings van ons regering om toe te sien dat die demokrasie in ons land ʼn werklikheid kan word en nie net vir sekere mense beskore is nie.

“Wat doen die regering om armoede werklik uit te roei en nie net te verskuif nie?” vra Breet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

HELENA SEABORNE ·

hallllloooooooooooooooo da kan nie so ver gedink word nie. die brains is nie daar nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.