Wapentransaksie: Hier is die getuies

Trevor Manuel

Voormalige president Thabo Mbeki, Trevor Manuel en ander ANC-hoës sal as getuies optree in die eerste fase van die ondersoek na die omstrede wapentransaksie.

“Die Wapenaankope-kommissie, wat die omstrede R70 miljard-wapentransaksie ondersoek, sal van 5 Augustus tot 31 Januarie openbare verhore hou,” het William Baloyi, woordvoerder van die kommissie, gesê. “Dit is egter onderworpe aan ʼn vergunning deur pres. Jacob Zuma om ná November nog met die ondersoek voort te gaan.”

Mbeki en Manuel, minister in die presidensie, sal na verwagting in die tweede helfte van Januarie getuig.

Baloyi sê die eerste fase van die kommissie sal bepaal tot watter mate die wapens en toerusting gebruik is.

Die eerste getuies sal beamptes van die vloot en lugmag wees. Armscor-getuies sal later bekend gemaak word.

Ronnie Kasrils, voormalige minister van intelligensie, en Mosiuoa Lekota, presidente van Congress of the People (Cope) sal tussen 30 September en 4 Oktober as getuies optree. Beamptes van die departement van handel en nywerheid sal tot 11 November in die getuiebank inskuif.

Alec Erwin, voormalige minister van openbare ondernemings, sal vir drie dae lank in November getuig voordat beamptes van die Nasionale Tesourie geroep sal word.

“Dit is belangrik om kennis te neem dat die program onder omstandighede aangepas of verander kan word wat die volgorde van getuies kan beïnvloed,” het Baloyi gesê.

Die verhoor sal by die Sammy Marks-konferensiesentrum in Pretoria plaasvind.

Die transaksie, wat aanvanklik R43 miljoen sou kos, teister al Suid-Afrika se politiek sedert dit in 1999 onderteken is. Patricia de Lille het destyds in haar kapasiteit as LP vir die Pan Africanist Congress (PAC), bewerings van korrupsie in die parlement ontbloot.

Zuma is ook van korrupsie aangekla nadat sy finansiële adviseur, Schabir Shaik, wat ʼn tender toegeken is om ʼn gedeelte van die vereistes te verskaf, skuldig bevind is nadat hy omkoopgeld van ʼn Franse wapenmaatskappy aanvaar het.

Die klagtes teen Zuma is later laat vaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.