Warden-ongeluk eis 7 lewens

Foto: Netcare 911

ʼn Gru-ongeluk op die N3-deurpad buite Warden het Vrydagoggend die lewens van sewe mense geëis, terwyl vyf mense beseer is.

Santi Steinmann, ʼn woordvoerder van Netcare 911, sê die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie en word deur die polisie ondersoek.

“Twee voertuie was in die botsing betrokke, een daarvan ʼn Mercedes-minibus wat ʼn waentjie gesleep het,” het sy aan Maroela Media gesê.

Met paramedici se aankoms het hulle gesien dat een van die voertuie in twee geskeur was. Die een helfte van die wrak het aan die kant van die deurpad gelê.

“Daar was slagoffers in albei voertuie. Sewe mense is op die toneel dood verklaar. ʼn Swanger 29-jarige vrou het kritieke beserings opgedoen. Paramedici het lank gespook om haar te stabiliseer voor sy na die Frankfort-hospitaal geneem is vir verdere behandeling,” het Steinmann bygevoeg.

Vier ander mense, waaronder twee kinders, het ernstige beserings opgedoen. Hulle is na die Hoogland Mediclinic geneem vir verdere behandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.