Die 13de en moontlik laaste dag van die regstellendeaksiesaak oor die departement van korrektiewe dienste (DKD) se omstrede regstellendeaksieplan gaan Maandag om 10:00 in die arbeidshof in Kaapstad begin.
ʼn Warm debat kan verwag word wanneer die DKD se spesialisgetuie, Susan Nkomo, gaan verduidelik waarom daar historiese regverdiging vir die diskriminasie teen bruin Suid-Afrikaners in die Wes-Kaap is.
Solidariteit se spesialisgetuie, Paul Joubert, se verslag wat aanvoer dat die DKD verkeerde demografiese syfers gebruik, gaan waarskynlik ook reaksie ontlok. Die stryd tussen die spesialiste gaan na verwagting een van die hoogtepunte van die saak wees.
Alhoewel die saak tot Donderdag 8 Augustus geskeduleer is, word verwag dat dit reeds vandag [Maandag] afgehandel gaan word.