Washington-brug stort ineen; drie beseer

Drie mense is uit ʼn rivier gered nadat ʼn brug in Washington in die VSA Donderdagaand ineengestort het. Foto: Taylor Linden / NBC News

Drie mense is uit ʼn rivier gered nadat ʼn brug in Washington in die VSA Donderdagaand ineengestort het.

NBC News berig twee voertuie het in die Skagit-rivier by Mount Vernon beland toe die brug omstreeks 19:00 (Amerikaanse tyd) ineengestort het. Die brug is vir verkeer gesluit, wat reuse verkeersopeenhopings veroorsaak het. Die brug is op die I-5-snelweg aan die staat se Weskus geleë.

ʼn Voorlopige ondersoek na die oorsaak van die ineenstorting dui daarop dat daar ʼn fout met die brug se struktuur was. Die brug is in Augustus 2010 uit ʼn skaal van 0 (swak) tot 9 (uitstekend) op 5 gegradeer deur die Washington-staat se departement van vervoer, en is beskryf as “ietwat beter as die minimum geskiktheid vir sy doel”.

Dit is in dié stadium nie bekend wat die toestand van die slagoffers is nie, maar al drie slagoffers is op die toneel gestabiliseer en na nabygeleë hospitale geneem.

Marcus Deyering, ʼn woordvoerder van Washington se rampsbestuur, het aan NBC gesê hulle het geen rede om te glo dat daar nog mense in die rivier kan wees nie.

Bron: NBC News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.