WASP: ‘n Nuwe politieke party vir die ‘werkersklas’

‘n Nuwe politieke party, die Workers and Socialist Party (Wasp) het die lig gesien.

“Kamerade van verskeie gemeenskappe regoor die land het bymekaargekom en die opkoms het al ons verwagtinge oortref,” het Mamatlwe Sebei, woordvoerder vir Wasp, Vrydag ná die party se bekendstellingsfunksie gesê. “Niemand kon die aantal mense, wat die bekendstelling bygewoon het, voorspel nie. Die saal was volgepak en klomp mense moes staan. Meer as 600 mense het van regoor die land gekom om hul ondersteuning te wys.”

Die geleentheid het Donderdag by die rugbyklub in Pretoria-Wes plaasgevind.

Sebei sê die mense in die vervoer- en mynbedryf, sowel as universiteitstudente, het gekom om die party te ondersteun. Sebei sê hulle het ‘n aantal veldtogte landswyd van stapel gestuur en het begin om die gemeenskappe te mobiliseer. Gratis opvoeding en hulp aan mynwerkers wat hul werk verloor het sal onder die party se prioriteite tel.

‘n Datum vir die partykongres, waar die leierskap verkies sal word, is nog nie vasgestel nie. Sebei hoop dat dit voor die einde van die jaar sal plaasvind. Wasp is nog nie by die Onafhanklike Verkiesingskommissie geregistreer nie. “Ons sal volgende week ons aansoek indien.”

Indien ‘n nuwe politieke party geregistreer moet word, bepaal die IEC se webwerf moet ‘n aansoekvorm saam met die party se naam en afkorting, ‘n afskrif van sy grondwet en ‘n stigtingsakte, wat deur 500 geregistreerde kiesers onderteken is, ingedien word. “Ons het reeds meer as 1 000 handtekeninge,” het Sebei bygevoeg.

Sebei het Woensdag gesê Wasp sal ‘n “nuwe tipe politiek” daarstel. “Wasp sal ‘n party wees wat homself vir ware demokratiese sosialisme en die belange van die meerderheid beywer. Dat dit ‘n inisiatief deur die mynwerkers, die ruggraat van die werkersklas, is, is ‘n vernedering vir die ANC. Hulle kan nie meer voorhou dat hulle die werkersklas in Suid-Afrika verteenwoordig nie. En werkers organiseer in opposisie teen die ANC om dié punt tuis te bring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

GS Du Plessis ·

Dit is wat die Demokrasie in SA modig het! Ek hoop dat hierdie party ‘n ware sterk opposie mbt tot veral verkieskngs sal daarstel. M.a.w dat hulle stemkrag sal trek om die ANC seagsbehepte optrede te temper.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.