Waterkloof-4 weet glo niks van appèl nie

Reinach Tiedt

Gert van Schalkwyk

Die stiefpa van een van die sogenaamde Waterkloof-vier het Vrydag gesê hy het eers in die koerant gelees dat die departement van korrektiewe dienste teen sy seun se vrylating wil appelleer.

“Ons weet niks daarvan af nie. Ons het nog niks ontvang nie. Die eerste keer wat ons iets daaroor gesien het, was vanoggend in die koerant,” het Jimmy Stonehouse gesê. Stonehouse se stiefseun, Gert van Schalkwyk, is verlede maand saam met Reinach Tiedt in hul onderskeie families se toesig vrygelaat. Die twee het in 2008 saam met Christoff Becker en Frikkie du Preez gevangestraf begin uitdien ná hulle skuldig bevind is dat hulle ʼn hawelose man vermoor en ʼn ander in ʼn park in Pretoria in 2001 aangerand het. Die Pretoria News het Vrydag berig dat Zacharia Modise, adjunk-kommissaris van korrektiewe dienste, gesê het dat hulle appèl by die hooggeregshof in Pretoria ingedien het. Modise was nie beskikbaar vir kommentaar nie, maar hy het laasmaand aan Sapa gesê dat die departement wel teen die besluit van die Zonderwater-tronk se paroolraad om Van Schalkwyk en Tiedt onder huisarres te plaas, sal appelleer. ʼn Geskil tussen die departement en die howe het gevolg nadat die streekshof in Pretoria beslis het dat Tiedt en Van Schalkwyk vrygelaat kan word. Hulle het op 19 Desember 2011 uit die tronk gestap, nadat hulle drie jaar van hulle 12 jaar gevangestraf uitgedien het. Jenny Brewis, die prokureur vir die twee mans, het bevestig dat haar kantoor dokumentasie van die departement ontvang het, maar sy kon nie daarop kommentaar lewer nie, aangesien sy steeds met verlof is. Sy is volgende week weer terug op kantoor. Nadat Modise op 26 Desember aangekondig het dat die departement teen die paroolraad se uitspraak gaan appelleer, het Brewis gesê dat sy hul vrylating as finaal beskou en dat daar geen kans op appèl is nie. Sy het gesê die huisarres, soos wat die paroolraad voorgestel het en deur die hof beslis is, was nie aksie wat haar kliënte geneem het nie, maar dit is deur die departement self uitgevoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.