Waterkloof-vier vrylating: geen gronde vir appèl

Gert van Schalkwyk Foto: SAPA

Reinach Tiedt Foto: SAPA

Die regspan van twee lede van die sogenaamde ‘Waterkloof-vier’ het Dinsdag gesê dat hulle Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt se vrylating op korrektiewe toesig as finaal beskou en dat daar geen gronde vir appèl is nie.

Jenny Brewis, wat die twee mans verteenwoordig, het reageer op die departement van korrektiewe dienste se verklaring dat hy van plan is om te appelleer teen die Zonderwater-gevangenis paroolraad se besluit om hulle vry te laat. “Dit was nie ek wat die besluit geneem het nie. Wil hulle teen hulself appelleer? Hoe appelleer jy teen jouself?” het Brewis gevra. Brewis sê volgens haar is die saak afgehandel. Sy sê die paroolraad se besluit en die bevestiging daarvan deur die howe was nie as gevolg van enige aksie deur haar kliënte nie maar van die departement self. ʼn Woordvoerder van die departement het vroeër Dinsdag gesê dat Brewis ingestem het om nie voort te gaan met aanklagte van minagting van die hof teen twee van die departement se beamptes nie. Brewis het dit bevestig maar sê die departement sal die regskostes moet dra.

Van Schalkwyk en Tiedt moes Donderdag vrygelaat word maar die departement het geweier. Die Pretoriase hooggeregshof het Vrydag gelas dat die twee mans onmiddellik vrygelaat word. Die departement het egter weer geweier. Van Schalkwyk en Tiedt is Maandagmiddag vrygelaat onder streng voorwaardes.

Van Schalkwyk, Tiedt, Frikkie du Preez en Christoff Bekker het in 2008 tronkstraf van 12 jaar begin uitdien na hulle vroeër skuldig bevind is aan die moord op ʼn hawelose man. Die voorval het in 2001 plaasgevind toe die vier mans nog op skool was. Du Preez en Bekker word in Pretoria Sentraal gevangenis aangehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.