Waterlose toilet sit pot (goud) raak

‘n Toilet wat higiënies is, maar nie van lopende water gebruik maak nie, gaan deur Bill Gates, die Microsoftmagnaat, ontwikkel en bemark word.

Gates het ‘n prys van $100 000 uitgeloof vir die beste ontwerp wat die pot as’t ware van die ketel verwyder, en dus nie lopende water en koppeling aan ‘n rioolstelsel benodig nie. Dié prys is deur die Kaliforniese Institute for Technology opgeraap, met ‘n stelsel wat van son-energie gebruik maak, die water hersirkuleer en die afval in energie omset.

Gates het $3,4 miljoen bewillig vir die ontwikkeling van die toilet, en die totale investering wat die bemarking insluit, sal $6.5 miljoen beloop.

Op die oomblik het sowat 2,6 miljard mense wêreldwyd nie toegang tot higiëniese sanitasie nie, en in China word verwag dat sowat 400 miljoen mense binne die afsienbare toekoms sal verstedelik en enorme druk op bestaande infrastruktuur sal plaas.

Argeoloë het vasgestel dat stede in verskillende dele van die wêreld meer as 4 000 jaar gelede van riolering gebruik gemaak het wat sterk aan die bestaande tegnologie herinner.

Daar steek geen waarheid in die gerug dat iemand wat die patent vir die Boere-longdrop ingestuur het, die tweede prys in Gates se kompetisie opgeraap het nie.

Bron: Trouw.nl

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.