Watervoorsieningsprogram van R4.3 miljard verwelkom

AfriForum verwelkom die departement van omgewingsake se interim-watervoorsieningsprogram wat daarop gemik is om die agterstande in watervoorsieningsdienste uit te wis.

Volgens Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, sal die program verskeie kwessies met betrekking tot die toegekende begroting ondervang, indien dit behoorlik bestuur word. “Minister Edna Molewa het Dinsdag in die parlement aangekondig dat ʼn begroting van R4.34 miljard toegeken is om 23 distriksmunisipaliteite, wat deur die kabinet geïdentifiseer is, te help. Dit sal die ontwikkeling en opgradering van waterbronne in omgewings met onvoorspelbare- of geen watertoevoer, waterbestuursprobleme en waterinfrastruktuursprobleme insluit.

“Dit is onrusbarend dat daar 23 distriksmunisipaliteite is waar water en infrastruktuurbestuur problematies is. Munisipaliteite word nie behoorlik bestuur nie en dit moet aandag geniet.”

Kapitaalbelegging in nuwe infrastruktuur vir water en sanitasie, wat insluit die opgradering van bestaande infrastruktuur, word beraam op R670 miljard oor die volgende tien jaar, of R67 miljard per jaar. Tans is daar slegs 45%, of R30 miljard, uit bestaande bronne beskikbaar.

“AfriForum meen dat die privatisering van water- en sanitasiebestuur volhoubaarheid en behoorlike dienslewering met betrekking tot hierdie belangrike hulpbron sal verseker. Molewa het gesê dat die res van die beleggings uit binne- en buitebegrotingsbronne in die privaatsektor moet kom,” het Kleynhans bygevoeg.

Die regering beoog ook om sy waterbeleid-hersieningsproses teen Julie af te handel, wat die wysiging van die Nasionale Waterwet en Wet op Waterdienste sal onderlê.

AfriForum sal steeds die situasie rondom waterkwessies in die land monitor en optree teen munisipaliteite wat onverantwoordelik te werk gaan.

Om by jou AfriForum-tak aan te sluit, SMS jou dorp se naam na 34188. 50c/SMS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.